Yeeeeeeeeessssssss Manne (skree),
Ek is dik van die lag en terselfde tyd kwaai huilerig oor hoe awesome ons Abba Vader is en hoe wonderlik Sy Gees ons bedien het. Hy het ons aangeraak, genees, bemoedig en nog baie meer. Die getuienisse bly inspoel, loof ons Abba Vader. Een aand, een oomblik met God se Gees is wat ons nodig het, net een ontmoeting met die ware God, Die Groot Ek Is. Mag dit ons leefstyl word, mag dit ons elke dag word. Ek kannie alles opsom wat die naweek gebeur het nie. ‘n Mens kannie ons Pa opsom nie, Hy is net te Groot.
Ek is net weer herinner aan wat Abba voor die tyd gedeel het tydens die uitnodigings, die hand wat die koring vasgryp. So, my terugvoer is dieselfde as my hallo sê voor die kamp. Dit self maak my wild opgewonde, so slaan hom vas! Ons het begin op ons knieë en ons gaan daar aan vandag in Afrika, Suid Afrika. Dit is so wonderlik om te sien hoe manne die Saad vasgryp as Volk van God. Gryp die Brood, gryp Jesus, gryp jou Vader vas, ons Heilige Gees God is in jou! Gryp manne!! Ons Vader God is Ewig en jy seun, is die perfekte ontwerp. Jy seun is op ‘n opwaardse kurwe. Nie meer vrees en nie meer gereserveerd nie. Ek sal gaan Here!
So ja, die vis loop, die wind waai en die branders slaan. Momentum is aan jou kant. Siele kom in, manne word genees, siekes word gesond, die Gees van ons Pa doen wat Pa wil en die krag van ons Abba Vader hou nooit op nie, nie die Maandag na die kamp nie, nooit nie. Momentum is aan jou kant, ook hierdie kant van die kamp. Jou opkoms verteenwoordig ‘n momentum van bo en jou keuse vir ‘n naweek is nou gekenmerk as ‘n keuse wat lewe uitskree. Kom ons hou aan skree en sing manne, sing soos Dawid. Begin sing, begin klap, begin dans. Jy is bestem vir lewe en die tyd vir lewe is nou. Die hongersnood eindig by jou en die nood vir God se Gees is herstel binne jou, verklaar dit! Jy weet nou jy het God se Gees nodig binne in jou en jou afhanklikheid aan Hom breek die hongersnood, breek die akute gebrek, breek die ernstige tekort aan voedsel, breek die geweldadige honger, breek die dood en breek die leun.
Kyk weer wat sê Koning Jesus Homself in Johannes 6:57-58:
“ Soos die lewende Vader my gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. Hierdie brood wat uit die Hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.“
Sit jou oë op Pa en jou oë sal van jou fisiese tekorte afval. Met jou oë op Hom is die res agter jou en Pa sal met dit wat agter jou is deel want Hy word alles vir jou! En dan manne, dan doen Pa se Gees in jou die res. Gooi kole. Kyk hier in Johannes 6:63:
“Wat ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.”
En dan ook Sagaria 4:6: (Hierdie vers was bo die deur in die kuier saal)
“… Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”
Die waarheid is dat ons honger is vir Hom, ons is so gebou manne. As Hy vêr is, is ons honger en het ons nood. Maar as Hy naby is dan doen Sy Gees bo natuurlike dinge in en deur ons wat ons verstand te bowe gaan. Dan manne, dan het ons oorvloed, dan word ons versadig, dan val die ander tekorte ook in plek. Ons gaan dit maak en die dinge roer met die Gees van God. ‘n Krag wat dalk onbekend was word nou vir jou bekend en gaan oor ons waai en ons opgewondenheid oor die bonatuurlike gaan oorneem. En so het ons gekamp 15-17 November 2019.
So hier is ons in Suid-Afrika, hier wil ek wees, hier wil ek leef, hier wil ek bly, hierdie is my land en hierdie is my geloof. Om die hongersnood te eindig sê WIE ons dien, dit sê WIE ons glo, dit sê WIE ons eet. Daarom het ons gekamp, om te eet manne. Mag dit weer vir ons so wees soos Paulus sê, om Koning Jesus te ken oortref alles in waarde.
Die Klein-Rivier Strandmeer langs Wortelgat is nou in ons almal se geskiedenis en jou Afspraak, jou Voorspraak het jou hongersnood ge-eindig. Jou Pa weet hoe om te versadig. Jou God is jou Pa, geniet Sy Vaderskap en geniet die hestel van Vaderskap vandag.
Die skepping is in afwagting op jou, Suid-Afrika is in afwagting op jou.
Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God - Romeine 8:19.
So hoe voel jy seun- Ek voel gevaarlik Pa.
Dankie baie vir julle liefde en saam kuier die naweek. Ek mis julle jakkalse al klaar.
Groete in Afrikaans en seën vir elke Volk, Stam, Nasie en Taal.
Lief vir julle ouens.