Hallo Manne,
Wat sê julle rooikatte. Ek is wyd excited oor wat Pappa God in elkeen van julle manne se lewens gedoen het en waarmee Pa steeds besig is in julle lewens. Gesprekke van die kamp af tot nou, tesame met manne wat hier by ons kom kuier het in Pretoria het soveel getuienisse gebring wat ons net wil laat spring vir die Koning en ek weet, die Leeu van Juda het ‘n spoor gelos in die sand. As jy Abba nog vertrou vir deurbraak, moenie ophou nie, hulp is oppad.
Vertrou Hom om die goeie werk wat Hy in jou begin het, klaar te maak en deur te sien. Waag dit om Hom te vertrou manne, waag dit, sy beloftes is ja en amen. Mag julle leef van elke woord uit God se mond en mag julle weg geblaas word deur Sy brul. Ons sien juis die Lig in die donker. Een van die mooiste woorde wat ek gehoor het van ons Pa se Woord is die: Jesaja 55:11
“So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” Afrikaans 83.
“So will My word be which goes out of My mouth; it will not return to Me void (useless, without result), Without accomplishing what I desire, And without succeeding in the matter for which I sent it.“ Amplified.
“so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” Afrikaans 53.
Herken Abba se Woord, pen dit neer en leef daarvolgens, dit sal uitwerk vir jou.
Psalm 25:3 “Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie” Afrikaans 83.
Verder kan ons getuig oor die ritmes van Abba Vader wat duideliker en duideliker word en ons staan in verwondering oor die Heilige Gees se werk in en deur sy seuns en dogters. Ons sien waar Abba in donker sand Sy spore los en verwagtinge van jare kom in vervulling manne!
Ons is ook in verwondering oor God se voorsiening. Ons volgende twee kampe, onder andere, is reeds betaal. Tagtig nuwe manne se lewens gaan verander in Mei maand met twee kampe wat geboek is rug teen rug in die Sabie Sand. Hoe wonderlik is ons Koning Jesus. ‘n Derde kamp is ook reeds vasgemaak in Augustus en ons vertrou om ‘n vierde kamp in die Kaap provinsie te hardloop. Ons bied ook ‘n groot manne ontbyt aan in Pretoria, voorlopig op 23 Maart 2019, en ook hier vertrou ons vir die oes wat gereed is en ons hoop julle kan ‘n paar jakkalse saam ons inbring. Bid asseblief vir ons en vir die manne wat kom, wat gaan inkom.
Kap die reis bere en leef vandag, want vandag will Abba naby jou wees en ook vandag kan nog iemand die Leeu voel trap in die sand van die hart.
Mis julle ouens, dit was ‘n belewenis om julle te ontmoet. Ons is nou besig om ‘n nuwe groep manne te ontmoet met die nuwe uitnodigings wat voorberei word en ons is van voor af opgewonde.
Koning Jesus is oppad terug en wanneer Hy kom mag Hy jou ken!
Sien Voor.
Liefde
Derik, Benjamin en Kamp Span