Welkom by Kamp Brood.

Dis November 2019 en die vis loop, die wind waai en die branders slaan. Momentum is aan jou kant. Siele kom in, die Gees van ons Pa doen wat Pa wil en die krag van ons Abba Vader hou nooit op nie. Momentum is aan jou kant.

As jy hierdie lees is jy uitgenooi en jou opkoms verteenwoordig ‘n momentum van bo. Sestig plekke word gevul met name uit die hemel. Jou keuse vir ‘n naweek word ewe skielik gekenmerk as ‘n keuse wat lewe uitskree. Jy is bestem vir lewe en die tyd vir lewe is nou. Die hongersnood eindig by jou!

“ Hongersnood” - akute gebrek / ernstige tekort aan voedsel / geweldadige honger / dood / leun.

Kyk wat sê Koning Jesus Homself in Johannes 6:57-58:

“ Soos die lewende Vader my gestuur het, en Ek deur Hom lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe. Hierdie brood wat uit die Hemel gekom het, is nie soos die manna wat julle voorouers geëet het nie. Hulle het dit geëet en tog gesterwe. Wie hierdie brood eet, sal ewig lewe.“

Sonder Koning Jesus is die “hongersnood” duidelik in baie areas van ‘n man se lewe. Hongersnood sit altyd so baie aandag op die fisiese tekorte wat ons beleef terwyl die ware hongersnood nie versadig word nie. Ons honger het waarlik te de doen met ons tekort aan ons Pa se Gees. Kyk hier in Johannes 6:63:

“Wat ek vir julle gesê het, kom van die Gees en gee lewe.”

En dan ook Sagaria 4:6:

“… Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”

Die waarheid is dat ons honger is vir Hom, ons is so gebou manne. As Hy vêr is, is ons honger en het ons nood. Maar as Hy naby is dan doen Sy Gees bo natuurlike dinge in en deur ons wat nie sin maak nie. Dan manne, dan het ons oorvloed, dan word ons versadig, dan val die ander tekorte ook in plek. As jy ‘n lekker Jakkals is klink hierdie al klaar kwaai diep en lekker wild, net soos vir die dissiples aan die einde van Johannes 6, maar hou die momentum. Ons gaan dit maak en die dinge roer met die Gees van God. ‘n Krag wat dalk onbekend is vir ons gaan oor ons waai en ons opgewondenheid oor die bonatuurlike gaan oorneem.

So hier is ons in Suid-Afrika, hier wil ek wees, hier wil ek leef, hier wil ek bly, hierdie is my land en hierdie is my geloof. Om die hongersnood te eindig sê WIE ons dien, dit sê WIE ons glo, dit sê WIE ons eet. Daarom kamp ons om te eet. Hier langs die Klein Rivier Strandmeer loop die vis mooi, waai die Wind reg en slaan die golwe hard. Jou afspraak het opgedaag en jou hongersnood eindig, jou Pa weet van jou honger en Hy is reeds hier, Hy weet net hoe om te versadig.

So ja manne, die “Bereik Rooi” Span verwelkom julle dan binne in die seisoen van die kamp en hiermee Kamp Brood, Wes-Kaap, Suid-Afrika:

  • Plek: Wortelgat, Stanford, Hermanus (Wortelgat Outreach Trust).

  • Datum en Tyd: Vrydag 15 November 2019 @ 14h00 - Sondag 17 November 2019 @ 13h00. Vat die dag af en arriveer so van 14h00 af en “settle” lekker in, kry jou lêplek en word rustig vir die afskop 17h30.

  • Koordinate: S 34° 25’ 48.00” / E 19° 21’ 11.0

  • Bring Saam: Bybel, nota boek, beddegoed met kussing, extra kombers, warm-ding, toiletware, toilet papier, verkyker, swembroek, handoek, hoed, sonbrand goed, koplamp en of flitslig, extra battery vir jou foon (slegs sonkrag).

  • Vervoer: Sien julle daar. Ry asb saam in een voertuig sovêr moontlik. Minder voertuie in die reservaat help.

  • Kos en drinkoed is beskikbaar vir die hele naweek. Koffie, tee, koeldrank en water sal voorsien word. (Die water op die gronde is ook alles drinkbaar maar hy mag dalk snaaks proe vir jou).

  • Kostes: Niks, ons Abba Vader het klaar vir jou persoonlik betaal.

  • Indien jy JA gesê het vir die uitnodiging vra ons dat jy jou kalender vasmaak. Ons kan slegs sestig manne huisves en weet asseblief dat jy een van die sestig is waarvoor ons gebid het. Ons glo dus jou plek is gereël en betaal vanuit die Hemel. Laat weet ons gerus, wel dringend, as jy vashaak en nie kan kom nie sodat ons betyds ‘n ander jakkals kan intrek.

Jy is regtig kosbaar en ons veg vir jou. Dankie vir jou vrou en familie wat jou afstaan, ons kyk uit vir jou aankoms by die kamp en sien uit na ‘n naweek wat versadig.

Sestig manne gaan anders huistoe die 17de.

Wortelgat Groete

Derik en Kamp Span

Praat gerus met ons. - “Reach Red Global Outreach Team”

Kontak gerus een van hierdie manne vir meer inligting:

Derik - 082 571 0738 of Pieterjan - 082 826 2899 of Vilje - 083 655 3982.